Sunday, June 22, 2008

Studente mág bulls*** skryf’

Alet Rademeyer

Die Noordwes-Universiteit (NWU) glo in vryheid van spraak en gaan nie stappe doen teen die student wat ’n artikel onder die titel “Die bullshit van Bloedrivier” geskryf het nie.

Prof. Annette Combrinck, rektor van die Puk-kampus van die NWU, het gister gereageer op ’n brief van die Federasie van ?Geloftefeeskomitees wat hul skok oor die artikel uitgespreek het.

Die artikel het in die Desember-uitgawe van OOPgesprek, nuusblad van die filosofievereniging op die kampus, verskyn.

Die federasie het gekla oor die swak taalgebruik in die artikel sowel as “geskiedkundige onjuisthede en belaglike gevolgtrekkings”.

In die artikel is onder meer na die moorde by Bloukrans, Wenen en Slagtersnek as “veldslae” verwys.

Daar is ook verwys na verskeie “mites” rondom Bloedrivier, soos dat dit ’n wonderwerk was en dat God aan die kant van die Afrikanervolk staan.

Mnr. Theuns de Wet, voorsitter van die federasie, het gesê die ergste misleiding waaraan die skrywer skuldig is, is die bewering dat die Voortrekkers nie die oorwinning by Bloedrivier as ’n oorwinning vir die Christelike beskawing gesien het nie.

Combrinck het gesê die filosofievereniging bestaan uit ’n groep studente en die NWU borg nie die nuusbrief nie.

Sy het gesê daar is verskillende denkskole rondom Bloedrivier en die Gelofte en die student se artikel verteenwoordig een daarvan. Sy het gesê die NWU se standpunt is dat hulle op hul mening geregtig is.

Sy het gesê daar is begrip daarvoor dat die verpakking van die artikel in studentetaal die klaers kon ontstel en daarvoor kan verskoning gevra word.

Combrinck het gesê die studente het die reg om hul menings te huldig.

“Hulle is op universiteit om hul idees te slyp en wat die taalgebruik van die artikel betref, kan die universiteit ’n rol speel om hulle te leer oor hoe om aan ’n akademiese diskoers deel te neem.”

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2344302,00.html

No comments: