Sunday, June 22, 2008

Ope brief aan die Rektor van die Potchefstroomkampus van NWU

Die Rektor
Potchefstroomkampus
NWU

Prof. A. Combrink,


Dit is met skok dat ek verneem het van die besluit van u universiteit om die Afrikanerkultuurgroep, GK267, te verban van die universiteit. Dit terwyl ander bevolkingsgroepe steeds toegelaat word om kultuurgroepe en selfs politieke groepe te bedryf op die universiteit.

Dit skep die indruk dat u 'n aksie het teen die Afrikaner en sy kultuur. Die vermoede word versterk deur die propagandablad wat deur die filosofie-departement uitgegee is. Die naam van die propagandablad is so vulgêr dat ek dit nie eens in hierdie skrywe kan noem nie. Ek glo geen opgevoede persoon sal daardie naam in opgevoede geselskap wil noem nie. Ek vind dit vreemd dat sulke vulgêre propagandablaaie toegelaat word, maar 'n Afrikanerkultuurgroep word nou verban.



Ek verneem graag of daar enige oortreding was wat in stryd is met die Grondwet van die land. Voorts verneem ek waarom soortgelyke beletsels nie geplaas word op ander strukture wat selfs meer radikaal in hule opvattings is nie - of is Afrikaners 'n verleentheid vir die Universiteit?



Indien dit gaan oor die gebeure in Bloemfontein en by name die sogenaamde Reitz video. Dan neem ek aan dat die ANC ook verban gaan word by die universiteit, aangesien lede van die ANC skootrekenaars gesteel het in Bloemfontein tydens hulle onlangse kongres daar.

Ek is seker u het 'n regsfakulteit by die universiteit. Ek stel voor dat u hulle kontak en uself vergewis van artikel 30 en 31 van die Grondwet. Ook moet u besef dat geen reëls wat u universiteit maak, in stryd mag wees met die Grondwet van Suid-Afrika nie. Artikel 30 en 31 van die Grondwet van Suid-Afrika gee aan die Afrikanerkultuurgroep GK267 bestaansreg in Suid-Afrika. U universiteit se optrede kan dus as ongrondwetlik beskou word.

Die Grondwet van Suid-Afrika maak verder voorsiening vir vryheid van assosiasie. Deur GK267 te verban, is u universiteit besig om hierdie vryheid te ontneem van die lede van GK267. Ek wonder hoe die menseregtekommissie daaroor sal voel.

Hierdie saak sal ek ook onder die aandag bring van die Afrikanerfront. Indien u nie bewus is nie, die Afrikanerfront is 'n sambreelorganisasie waaraan 24 Afrikanerorganisasies behoort. Die Afrikanerfront strewe na eendragtigheid van Afrikanerorganisasies en ook na onderlinge ondersteuning van Afrikanerorganisasies. Dit is juis onregverdige optredes soos hierdie, wat die ontstaan van die Afrikanerfront genoodsaak het.

Dit is 'n jammer dag wanneer die kinders van 'n volk die teiken word van aanvalle. Die Afrikanervolk het al in die verlede hierdie soort van lafhartige aanvalle op onskuldige vrouens en kinders ervaar. Ook is dit ironies dat tydens die tweede vryheidsoorlog dit ook die "joiners" was wat die wreedste teenoor die vrouens en kinders was in die konsentrasiekampe. Ek is seker u universiteit het 'n geskiedenisfakulteit, dus stel ek voor dat u uself vergewis van hoe daar teenoor "joiners" opgetree is wat wreed was teenoor die Afrikanervolk se kinders.

My voorstel is dat u hierdie futiele poging om die Afrikaner se kultuur te misken, staak. Verder verwag ek ook dat u persoonlik 'n verskoning aanbied aan die lede van GK267.

Die uwe,


Ben Geldenhuys
President
Bravoland

No comments: