Sunday, June 22, 2008

Pukke vier steeds 31 Mei

Vir jong Pukke, asook ouer gardes van die Pothefstroomse gemeenskap was dit Donderdagoggend, 29 Mei `08, voorwaar `n voorreg om weer herinner te word aan vele lewens wat opgeoffer is tydens die Anglo-Boere oorlog.
Die Bittereinderdag-herdenking is vroeg die oggend afgeskop met ‘n kranslegging wat plaasgevind het by die Pothefstroomse konsentrasiekampbegrafplaas. Interessant van die konsentrasiekamp was, dat dit teen September 1901 sy hoogste getal vrouens en kinders inwoners bereik het, naamlik 7545, wat dit op daardie stadium die grootste kamp in die Zuid-Afrikaanse Republiek gemaak het.
Die aand is `n gedenkaand gehou, waar weereens diè jaar se tema deur Mnr Barend Uys, die spreker vir die geleentheid, beklemtoon is: Ons Onthou ! Saterdag die 31ste het lede van dieselfde groep ook die herdenking by Paardekraal, wat deur onder ander Bravoland, Die Verkenners en Die Afrikaner Kultuur Beweging, gereël is, bygewoon.

In teenstelling met vorige jare is die Gedenkaand egter nie op die Puk gehou nie. Die rede hiervoor was dat die Studentedekaan van die Puk aangevoer het dat sodanige aktiwiteite nie so naby aan die eksamentyd van die studente gehou mag word nie. Ironies genoeg is ons bewus van talle ander studente aktiwiteite wat wel in die tyd plaasgevind het en wat nie verbied is nie.
Dit blyk verder ook asof jong Boere en Christene se belange nie meer welkom is op die eens Gereformeerde instelling nie, aangesien die studenteraad van die Puk, op daardie selfde aand, ja kort voor die eksamentyd, `n vergadering belê, waar daar besluit is dat GK267 nie meer op kampus welkom is nie. Geen skriftelike redes is aan ons verstrek nie, maar is ons meegedeel dat die rede vir die skorsing is dat volgens die SR, GK267 ‘n politieke agendas loots, en nie met kultuur handel nie. Skynbaar word die beskerming van jou kultuur, taal of geloof, deesdae as politiek gesien. Ons sal graag van die SR, of hul opdraggewers wil weet wat dan van ons sogenaamde Grondwetlike regte, soos die reg op vryheid van spraak, geword het.
So is ook die laaste uitgawe van Die Brandwag, die mondstuk van GK267, op 21 Mei `08 deur die SR van kampus af verban ; die rede hiervoor aangevoer is die feit dat dit die Kandelaar op die voorblad bevat, asook dat dit inhoud bevat wat sogenaamde geweld op kampus onder verskillende rasse gaan uitlok. Ons wil net graag vermeld dat geen leser van die Brandwag tot ‘n xenofobiese aangeval gedryf is nie.

Die Kandelaar, wat histories deel uitmaak van die PU vir CHO se kulturele erfenis en vir ons as studente heenwys na die eertydse Gereformeerde karakter van die instelling, is deurgaans deur GK267 as simbool gebruik om ons te herinner aan ons strewe om die Christelike karakter van die kampus te behou en om andere op kampus bewus te maak van ons herkoms. Daar is al selfs deur die SR so ver gegaan om te sê dat as ons sou voortgaan om die Kandelaar as deel van ons identiteit te gebruik, ons deur die universiteit gedagvaar sou word. Daarenteen het hulle eerder besluit om GK267 van die kampus af te skors.
Geïnspireer deur die ywer en moed van ons Bittereindervoorouers sal ons egter nie sommer gaan lê nie. Die Stryd duur voort!

Indien u sou belangstel om die onderliggaam te kontak of kritiseer, besoek gerus hul webwerf by www.gk267.com, lees ook Die Brandwag by www.gk267.com/diebrandwag, of lewer kommentaar by PUvirCHO@gk267.com.

No comments: