Sunday, June 22, 2008

OOPgesprek - Die misbruik van Geskiedenis.




In hierdie artikel word GK267 daarvan beskuldig dat hulle geskiedenis misbruik.

Deur jou geskiedenis te onthou en trots te wees daarop, is tog nie 'n misbruik daarvan nie, of hoe?

OOPgesprek - Die Bul**** van Bloedrivier




Hierdie is nie net 'n aanslag teen GK267 nie, maar teen die ganse Christelike Afrikanerdom!

Ope brief aan die Rektor van die Potchefstroomkampus van NWU

Die Rektor
Potchefstroomkampus
NWU

Prof. A. Combrink,


Dit is met skok dat ek verneem het van die besluit van u universiteit om die Afrikanerkultuurgroep, GK267, te verban van die universiteit. Dit terwyl ander bevolkingsgroepe steeds toegelaat word om kultuurgroepe en selfs politieke groepe te bedryf op die universiteit.

Dit skep die indruk dat u 'n aksie het teen die Afrikaner en sy kultuur. Die vermoede word versterk deur die propagandablad wat deur die filosofie-departement uitgegee is. Die naam van die propagandablad is so vulgêr dat ek dit nie eens in hierdie skrywe kan noem nie. Ek glo geen opgevoede persoon sal daardie naam in opgevoede geselskap wil noem nie. Ek vind dit vreemd dat sulke vulgêre propagandablaaie toegelaat word, maar 'n Afrikanerkultuurgroep word nou verban.



Ek verneem graag of daar enige oortreding was wat in stryd is met die Grondwet van die land. Voorts verneem ek waarom soortgelyke beletsels nie geplaas word op ander strukture wat selfs meer radikaal in hule opvattings is nie - of is Afrikaners 'n verleentheid vir die Universiteit?



Indien dit gaan oor die gebeure in Bloemfontein en by name die sogenaamde Reitz video. Dan neem ek aan dat die ANC ook verban gaan word by die universiteit, aangesien lede van die ANC skootrekenaars gesteel het in Bloemfontein tydens hulle onlangse kongres daar.

Ek is seker u het 'n regsfakulteit by die universiteit. Ek stel voor dat u hulle kontak en uself vergewis van artikel 30 en 31 van die Grondwet. Ook moet u besef dat geen reëls wat u universiteit maak, in stryd mag wees met die Grondwet van Suid-Afrika nie. Artikel 30 en 31 van die Grondwet van Suid-Afrika gee aan die Afrikanerkultuurgroep GK267 bestaansreg in Suid-Afrika. U universiteit se optrede kan dus as ongrondwetlik beskou word.

Die Grondwet van Suid-Afrika maak verder voorsiening vir vryheid van assosiasie. Deur GK267 te verban, is u universiteit besig om hierdie vryheid te ontneem van die lede van GK267. Ek wonder hoe die menseregtekommissie daaroor sal voel.

Hierdie saak sal ek ook onder die aandag bring van die Afrikanerfront. Indien u nie bewus is nie, die Afrikanerfront is 'n sambreelorganisasie waaraan 24 Afrikanerorganisasies behoort. Die Afrikanerfront strewe na eendragtigheid van Afrikanerorganisasies en ook na onderlinge ondersteuning van Afrikanerorganisasies. Dit is juis onregverdige optredes soos hierdie, wat die ontstaan van die Afrikanerfront genoodsaak het.

Dit is 'n jammer dag wanneer die kinders van 'n volk die teiken word van aanvalle. Die Afrikanervolk het al in die verlede hierdie soort van lafhartige aanvalle op onskuldige vrouens en kinders ervaar. Ook is dit ironies dat tydens die tweede vryheidsoorlog dit ook die "joiners" was wat die wreedste teenoor die vrouens en kinders was in die konsentrasiekampe. Ek is seker u universiteit het 'n geskiedenisfakulteit, dus stel ek voor dat u uself vergewis van hoe daar teenoor "joiners" opgetree is wat wreed was teenoor die Afrikanervolk se kinders.

My voorstel is dat u hierdie futiele poging om die Afrikaner se kultuur te misken, staak. Verder verwag ek ook dat u persoonlik 'n verskoning aanbied aan die lede van GK267.

Die uwe,


Ben Geldenhuys
President
Bravoland

Pukke vier steeds 31 Mei

Vir jong Pukke, asook ouer gardes van die Pothefstroomse gemeenskap was dit Donderdagoggend, 29 Mei `08, voorwaar `n voorreg om weer herinner te word aan vele lewens wat opgeoffer is tydens die Anglo-Boere oorlog.
Die Bittereinderdag-herdenking is vroeg die oggend afgeskop met ‘n kranslegging wat plaasgevind het by die Pothefstroomse konsentrasiekampbegrafplaas. Interessant van die konsentrasiekamp was, dat dit teen September 1901 sy hoogste getal vrouens en kinders inwoners bereik het, naamlik 7545, wat dit op daardie stadium die grootste kamp in die Zuid-Afrikaanse Republiek gemaak het.
Die aand is `n gedenkaand gehou, waar weereens diè jaar se tema deur Mnr Barend Uys, die spreker vir die geleentheid, beklemtoon is: Ons Onthou ! Saterdag die 31ste het lede van dieselfde groep ook die herdenking by Paardekraal, wat deur onder ander Bravoland, Die Verkenners en Die Afrikaner Kultuur Beweging, gereël is, bygewoon.

In teenstelling met vorige jare is die Gedenkaand egter nie op die Puk gehou nie. Die rede hiervoor was dat die Studentedekaan van die Puk aangevoer het dat sodanige aktiwiteite nie so naby aan die eksamentyd van die studente gehou mag word nie. Ironies genoeg is ons bewus van talle ander studente aktiwiteite wat wel in die tyd plaasgevind het en wat nie verbied is nie.
Dit blyk verder ook asof jong Boere en Christene se belange nie meer welkom is op die eens Gereformeerde instelling nie, aangesien die studenteraad van die Puk, op daardie selfde aand, ja kort voor die eksamentyd, `n vergadering belê, waar daar besluit is dat GK267 nie meer op kampus welkom is nie. Geen skriftelike redes is aan ons verstrek nie, maar is ons meegedeel dat die rede vir die skorsing is dat volgens die SR, GK267 ‘n politieke agendas loots, en nie met kultuur handel nie. Skynbaar word die beskerming van jou kultuur, taal of geloof, deesdae as politiek gesien. Ons sal graag van die SR, of hul opdraggewers wil weet wat dan van ons sogenaamde Grondwetlike regte, soos die reg op vryheid van spraak, geword het.
So is ook die laaste uitgawe van Die Brandwag, die mondstuk van GK267, op 21 Mei `08 deur die SR van kampus af verban ; die rede hiervoor aangevoer is die feit dat dit die Kandelaar op die voorblad bevat, asook dat dit inhoud bevat wat sogenaamde geweld op kampus onder verskillende rasse gaan uitlok. Ons wil net graag vermeld dat geen leser van die Brandwag tot ‘n xenofobiese aangeval gedryf is nie.

Die Kandelaar, wat histories deel uitmaak van die PU vir CHO se kulturele erfenis en vir ons as studente heenwys na die eertydse Gereformeerde karakter van die instelling, is deurgaans deur GK267 as simbool gebruik om ons te herinner aan ons strewe om die Christelike karakter van die kampus te behou en om andere op kampus bewus te maak van ons herkoms. Daar is al selfs deur die SR so ver gegaan om te sê dat as ons sou voortgaan om die Kandelaar as deel van ons identiteit te gebruik, ons deur die universiteit gedagvaar sou word. Daarenteen het hulle eerder besluit om GK267 van die kampus af te skors.
Geïnspireer deur die ywer en moed van ons Bittereindervoorouers sal ons egter nie sommer gaan lê nie. Die Stryd duur voort!

Indien u sou belangstel om die onderliggaam te kontak of kritiseer, besoek gerus hul webwerf by www.gk267.com, lees ook Die Brandwag by www.gk267.com/diebrandwag, of lewer kommentaar by PUvirCHO@gk267.com.

Mosie vir permanente goedkeuring (GK267)

From: Wynand Greffrath
To: 12989053@student.nwu.ac.za
Date: 2008/06/02 04:34 pm
Subject: Mosie vir permanente goedkeuring (GK267)

Casper

Tydens Donderdag die 29ste Mei se SR vergadering was daar 'n mosie deur die Verenigingsraad ingedien vir GK267 se amptelike goedkeuring om as onderliggaam gepatroneer te word. Die stemtalle vir die mosie was soos volg, 13 teen, 2 vir en 1 onthoude stem. Dus word GK267 nie meer as NWU onderliggaam deur die SR geag nie. Hierdie verwikkeling het verskeie implikasies:

1) Geen aktiwiteite of aksies mag deur GK267 op kampus gehou word nie
2) Geen lokale mag deur GK267 bespreek word nie
3) Geen publikasies of bemarkingsmateriaal mag deur GK267 versprei word nie
4) Die PUK se geregistreerde kandelaar embleem mag geensins van gebruik gemaak word nie. Gebruik van die kandelaar embleem geld as gronde vir siviele aksie.

Die standpunt van die SR lui dat GK267 se grondwet nie die aard van hul aksies weerspieel het nie. Die behoud van Afrikaner kultuur en Christenskap, soos verskans in GK267 se grondwet is opsigself 'n waardige doel. Die manier waarop GK267 egter te werk gegaan het om die boodskap in aksie te manifesteer dui op 'n sekere behepteid met sosio-politiese kwessies, soos vervat in die publikasie "die Brandwag". GK267 se doel op kampus was as 'n kultuur onderliggaam, onder voogskap van die Verenigingsraad. GK267 was nooit 'n politiese onderliggaam nie.

Die SR het egter gemeld dat GK267 op verskeie gebiede positiewe kommentaar uitlok, veral met betrekking tot organisasie en administrasie, sowel as die pro-aktiewe houding wat die bestuur getoon het met elke geleentheid waar hulle betrokke was. Verder is herpatronasie nie buite die kwessie nie, mits daar wysigings aan GK267 se grondwet of karakter geskied, en dit die SR se goedkeuring dra.

Verenigingsraad groete,

Wynand

Departonering van GK267




GK267 is nie welkom op die kampus nie en nou word enige verskoning gebruik om hulle te "departoneer".

Die eerste aanslag was natuurlik die "Oop Gesprek" nuusblad van die filosofie departement. Toe dit hulle nie stil nie, is hierdie nuutste aanval geloots.

Studente mág bulls*** skryf’

Alet Rademeyer

Die Noordwes-Universiteit (NWU) glo in vryheid van spraak en gaan nie stappe doen teen die student wat ’n artikel onder die titel “Die bullshit van Bloedrivier” geskryf het nie.

Prof. Annette Combrinck, rektor van die Puk-kampus van die NWU, het gister gereageer op ’n brief van die Federasie van ?Geloftefeeskomitees wat hul skok oor die artikel uitgespreek het.

Die artikel het in die Desember-uitgawe van OOPgesprek, nuusblad van die filosofievereniging op die kampus, verskyn.

Die federasie het gekla oor die swak taalgebruik in die artikel sowel as “geskiedkundige onjuisthede en belaglike gevolgtrekkings”.

In die artikel is onder meer na die moorde by Bloukrans, Wenen en Slagtersnek as “veldslae” verwys.

Daar is ook verwys na verskeie “mites” rondom Bloedrivier, soos dat dit ’n wonderwerk was en dat God aan die kant van die Afrikanervolk staan.

Mnr. Theuns de Wet, voorsitter van die federasie, het gesê die ergste misleiding waaraan die skrywer skuldig is, is die bewering dat die Voortrekkers nie die oorwinning by Bloedrivier as ’n oorwinning vir die Christelike beskawing gesien het nie.

Combrinck het gesê die filosofievereniging bestaan uit ’n groep studente en die NWU borg nie die nuusbrief nie.

Sy het gesê daar is verskillende denkskole rondom Bloedrivier en die Gelofte en die student se artikel verteenwoordig een daarvan. Sy het gesê die NWU se standpunt is dat hulle op hul mening geregtig is.

Sy het gesê daar is begrip daarvoor dat die verpakking van die artikel in studentetaal die klaers kon ontstel en daarvoor kan verskoning gevra word.

Combrinck het gesê die studente het die reg om hul menings te huldig.

“Hulle is op universiteit om hul idees te slyp en wat die taalgebruik van die artikel betref, kan die universiteit ’n rol speel om hulle te leer oor hoe om aan ’n akademiese diskoers deel te neem.”

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2344302,00.html

'Die bullshit van Bloedrivier'

Alet Rademeyer

Die Federasie van Geloftefeeskomitees het ’n ope brief aan dr. Theuns Eloff, rektor van die Noordwes-Universiteit (NWU), gestuur waarin hy sy skok uitspreek oor ’n artikel van die universiteit se filosofievereniging onder die titel: “Die bullshit van Bloedrivier”.

Die artikel het in die Desember-uitgawe van OOPgesprek, nuusblad van die NWU se filosofievereniging, verskyn.

Mnr. Theuns de Wet, voorsitter van die federasie, het gesê die artikel het eers tydens ’n vergadering vandeesweek onder die federasie se aandag gekom.

Hy het sy verontwaardiging uitgespreek dat die universiteitsowerhede hoegenaamd sulke nuusbriewe op die kampus toelaat.

“Die artikel is uittartend teenoor ’n groot en gerespekteerde deel van die Afrikanervolk, getuig van uiters swak smaak en taalgebruik en is deurspek met woorde wat nie in beskaafde geselskap tuishoort nie.”

De Wet het bygevoeg dit wemel van geskiedkundige onjuisthede en belaglike gevolgtrekkings.

Hy het gesê om na die moorde by Bloukrans, Wenen en Slagtersnek as “veldslae” te verwys, is belaglik.

“Om te suggereer dat dit eers of net die ou Nasionale Party-regering was wat erns met die Gelofte se herdenking en nakoming gemaak het, is net so ’n wanvoorstelling as die veralgemeende stelling dat dit deur die betrokke regering verabsoluteer is.

“Duidelik weet die skrywer nie van die herbevestiging van die Gelofte en die Paardekraalverbond van 1880 nie, ook nie van die herdenking van die Gelofte tydens die Tweede Vryheidsoorlog en daarna nie.”

Volgens De Wet weet die skrywer ook nie van die goeie verhouding tussen die Voortrekkers en koning Panda van die Zoeloes, Dingaan se opvolger, nie en ook nie van die uitdelgingsoorloë van Tsjaka, Silkaats en Dingaan nie.

Die ergste misleiding waaraan die skrywer skuldig is, is die bewering dat die Voortrekkers nie die oorwinning by Bloedrivier as ’n oorwinning vir die Christelike beskawing gesien het nie, het De Wet gesê.

Hy het gesê die federasie is teleurgesteld dat die universiteitsraad so ’n swak nuusbrief op kampus toelaat.

In die artikel verwys die anonieme skrywer na verskeie “mites” rondom Bloedrivier, soos dat ’n wonderwerk was en dat God aan die kant van die Afrikanervolk staan.

Die universiteitsbestuur was gister heeldag in vergaderings en het onderneem om vandag kommentaar te lewer.

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afr...343699,00.html